Knie Vervangings Chirurgie

Kniegewrigte ondergaan slytasie (“wear and tear”) of osteoartritis met toenemende ouderdom. Sodoende verdun en verweer die gladde kraakbeen bedekking en die onderliggende been word ontbloot. Kontak van been op been in gewrigte veroorsaak pyn en swelling, veral met aktiwiteit. Voorafgaande trauma, infeksie of inflammatoriese siektes kan dan lei tot vervroegde verwering of artritis van gewrigte.

Wanneer die pyn die pasient se normale loop, werk of ander alledaagse aktiwiteite inperk, raak dit problematies. Simptome kan vir kort tussenposes medies beheer word met veral anti-inflammatoriese medikasie, maar die meeste pasiënte sal voorts verdere behandeling benodig in die vorm van ‘n heup- of knievervanging.

Tydens ‘n knievervanging word die bo - en onderbeen se gewrigsoppervlak vervang met metaal prosteses met ‘n polietileen (plastiek) loopvlak tussenin. Hierdie prosteses word gewoonlik met beensement fikseer. Vir spesifieke indikasies kan daar deesdae ook slegs ‘n gedeeltelike of unikondilêre vervanging van een helfte van die knie gedoen word. Soms kan die prostese dat sementloos ingeplaas word

Pre-Operatief

Die slegste komplikasie met vervangings is infeksie, hetsy vroeg of laat. Die insidensie is gelukkig laag (<1%) maar veelvuldige toetse word pre-operatief uitgevoer om ‘n moontlike infektiewe fokus te identifiseer en behandel. Bloedverdunnings middels soos Disprin/Ecotrin moet 3-5 dae voor die operasie gestaak word. Vra u geneesheer hieroor as u onseker is. Pasiente word dan die dag van die operasie in die hospitaal opgeneem maar soms die vorige middag.

Post-Operatief

Post-operatief bly pasiënte vir 3-4 dae in die hospitaal totdat hul goed stap. Dit sluit soms 1 aand in hoë sorg eenheid in. Mobilisasie begin op dieslfde dag of dag 1 post-operatief en sluit ondersteuning met krukke of loopraam vir 4-6 weke in. ‘n Fisioterapeut sal met mobilisasie help in die hospitaal. Dreineringsbuise word gewoonlik op dag 1 verwyder en die intraveneuse infusie op dag 2. Die wond word geheg met oplosbare steke onder die vel. Dit word verkies dat die pasiënte vir die eerste 4-6 weke stort eerder as bad, indien moontlik. Die pasiënt kan gewoonlik self begin bestuur na 6 weke. Kontak u geneesheer onmiddellik as die chirurgiese wond post-operatief meer begin dreineer of seerder word. Pasiënte word gewoonlik op 2 weke en 6 weke post-operatief opgevolg en dan 6-12 maandeliks.

Verdere voorsorgmaatreëls en inligting post-operatief tot vervangings

Pasiente het vir 6 weke ‘n verhoogde kans vir bloedklont vorming . Dit veroorsaak erge swelling en pyn in die been wat nie verbeter met elevasie en medikasie nie. Bewysde DVT moet dan behandel word. Voorsorgmaatreëls sluit dan vroeë mobilisasie, Clexane subkutaan in hospitaal, DVT kouse vir 4-6 weke en Pradaxa/Xarelto bloedverdunnings middels vir 2-4 weke soos voorgeskryf met ontslag.

Antibiotika moet geneem word voor enige toekomstige chirurgiese prosedures, veral tandheelkundige en urogenitale prosedures. Dit behels 1 dosis antibiotika 1 uur voor prosedure bv. Augmentin 1 g of Klindamisien 600mg vir Penisillien allergie. Kontak u geneesheer vooraf.

Onder geen omstandighede moet enige iemand ‘n naald in u knie druk vir ‘n aspirasie of infiltrasie voor kontak met u geneesheer nie.

Soms is die knie se omvang van beweging nog swak op 6 – 12 weke en dan mag ‘n manipulasie onder narkose aan u voorgestel word.

Dit is normaal om na ‘n knievervanging klikke te voel of te hoor. Dis gewoonlik pynloos. Verder sal daar ook ‘n area van verlaagde sensasie oor die litteken en aan buitekant van knie wees. Dit sal verbeter oor 6-12 maande maar gewoonlik nooit heeltemal normaliseer nie.

Daar sal tot op ‘n jaar nog verbetering wees in funksie na ‘n knievervanging. Die verwagte lewensduur van die prostese is gemiddeld 20 jaar en dit verskaf ‘n pynlose funksionele gewrig waarmee pasiënte gemaklik kan loop en hul aktiwiteite kan hervat. Hul kan selfs lae impak sport soos golf, dubbelspel tennis, swem en fietsry beoefen.

Bespreek 'n Afspraak

Suite 2 Weskus Privaat Hospitaal,
Voortrekkerstraat 22 Vredenburg, 7380

022-7132227 / 022-7132237